Welcome! DaisyBlog BlomBlok Adult Humor BoereLag Angel Pix 1 Angels 2 Blinkies! XLBlinkies Butterflies Chuck! Cats Clowns CP Diary D.Y.K?? Dolphins FairyPix FishPix Food4Thought Free Pics FunPage Fun Pix Good News Graffiti Jokes2Go Monkeys PussyPix QuickJokes Recipes Religious Showcase Site Map Smileys FreeText Trivia Valentine's VicBay VicBayPix XmasPix Credits Feedback Survey e-mail me

Die Google-Giggel
 

Elke ou probeer mos maar vir homself sorg.  Man van my het laasjaar in die winter, vir my die Internet-konneksie gekry en my toegelaat om sy kredietkaart in te span vir die webwerf-ding.  Die konneksie kos so R250.00 per maand, en die webwerf so R70.00 per maand.  Laasgenoemde betaal ek aan een of ander Krokodil in Amerika.

Mens kan "verkeer koop".  Bedoelende affiliasies en assosiasies met ander ouens, wat maar net daarop neerkom dat mens onskuldige mense verpes met ongewenste e-posse ens.  Daaraan wou ek my nie skuldig maak nie, want ekself verpes sulke goed.

Toe sluit ek maar by die Groot Giggel aan.  Dit kos kamtig niks, maar jy besoedel jou werf met ander ouens se sogenaamde "verwante" advertensies.  Die gedagte is dat wanneer mense soos jy wat nou hier lees, dan op van daardie advertensies klik, en dat ek, webmeester van hierdie werf, dan gevolglik 'n geldjie daaruit verdien.  Ek het gedink dis 'n slim plan, nie noodwendig om ryk te word daaruit nie, maar om ten minste Man van my se swaarverdiende geld vir hom te kan teruggee.  Ek meen, ek speel lekker, en hy betaal.

Bogenoemde is hoe Google my op die oomblik laat voel!

Januarie sluit ek toe aan.  Jong, en daar is regulasies en voorskrifte ens ens.  En ek hou by alles.  En verdien tot en met afgelope Donderdag, die ongelooflike totaal van om en by $85.  Amerikaans.  Nog nie 'n sent daarvan gesien nie.  Dit betaal eers uit sodra jy $100 in die kitty het.

Vrydagoggend gaan trek ek weer die statistieke, en vind dat my rekening gesluit is.  En ek volg die skakel wat hulle my gee.  Daar vind ek 'n vorm wat ek mag invul om appel aan te teken.  Die Giggels is baie vaag, maar insinueer ongerymdhede.  Na ek appelleer, sal hulle binne 48 uur besluit of ek hul mag gebruik, al dan nie.  Nog niks gehoor nie.

Ek voel effe verneuk en gekroek want ek het alles volgens die boek gedoen.  Nou wag ek maar.

Dankie vir jou besoek!  Saterdag 4 Oktober, 2008. 



Weg vir die naweek?
   

Het jy op die Goeie Nuus Blad gesien dat ek gesê het die Flintstones is weg vir die naweek?  Dis die indruk wat ons gekry het, want dis doodstil en pikdonker daar.

Laasnag, seker 4-uur, word ek wakker van Wilma se skril sny-stemmetjie:  “Maak oop die effen hek!  Ek wil effen ry!”  En die hek gly oop en daar gaat sy, wiele wat spin.  En ek troetel my griep en veral my gloeiende keel met ‘n lang glas yswater.

Nou is dit mos maar so dat wanneer mens so in die nag wakkerlê, jy mos tyd het om te dink.  En ek dink aan die Balju wat al sekerlik op first name terms moet wees met die spul.  En ek dink aan die bou-inspekteur wat ons nou nog nie met ‘n oog gesien het nie.  En die eksvrou en al die kwaai mense wat al langsaan opgedaag het, op soek na dit wat Fred hulle skuld.

En toe tref dit my:

Hulle is nie weg vir die naweek nie, HULLE KRUIP WEG!

Ek meen nou maar, as soveel mense agter my bloed aan was, sou ek ook ‘n lae profiel handhaaf.  Toe die son mooi op was vanmore, is alles weereens stil en toe by die Grot.  So ja, dalk kruip hulle weg.

Maar dit verklaar nie hoekom Wilma met gillende bande in die nanag hier weg is nie.  Ek VREK om te weet....

Maar dalk moet daardie hond eerder bly slaap.

Hierdie inhoud is bygevoeg op Saterdag 27 September 2008.  Baie dankie vir jou inloer!    



Donderdag 18 September 2008
 

Dis Donderdagaand, 18 September.  Terwyl ek hierdie skryf:  Bykans middernag.  En die Flintstones doefdoef alweer much better.  Pastoor Swart hier agter Fred-hulle, staan hande op die heupe (vuiste dalk eerder?) in sy kamervenster op die boonste verdieping en gluur vir die rumoer.

Seun van my (die een wat besig is met rekord-eksamen, en probeer leer!) is op en af in die gang soos ‘n dier in ‘n hok.  Jongste van ons (liewe, CP-Niekie) is op ‘n plak van haar eie.  Gesels land en sand met haarself oor die vet pret van vroëer vanaand. 

Ons was by die Kerk af in die pad se Wonderliggiefees.  Mense, wat ‘n lekker atmosfeer en die geur van hamburgervleisies wat braai, en die mooiste uitstalling kunswerk ens!  En dan natuurlik Robbie Klay...

Niekie van ons was soos gewoonlik uit haar vel uit, want ek vermoed sy is eiehandig die klein mannetjie se heel grootste fên.  Sy het hom die eerste keer sien sing toe sy net 5 was.  En dadelik haar hartjie vir hom belowe.  En gedienstig haar verjaarsdaggeldjies gespaar (en elke dag sent vir sent getel) en elkeen van sy CD’s gekoop.

In haar hartjie is sy en Robbie heel beste maatjies.  By die Kerk aangekom vanaand, was Robbie vroeg al daar en Niekie bevlieg hom natuurlik.  Ewe kordaat gryp hy haar vas en drrrrrrruk vir haar dat jy net tande sien.  Die vertoning was puik, ten spyte van ‘n paar boggerops met die klankgoed.  Ons het net die eerste uur gekyk, want dit was laat en die aandlug effe koel.

Oor Niekie:  Sy is ‘n spastiese hemipleeg en is ook verstandelik gestrem as gevolg van Meningitis as baba.  Kortom:  Serebraalgestremd, of CP (Cerebral Palsied).  “Mense soos sy” is anders:

Eerstens, erg emosioneel.  Van ‘n redenasievermoë is nie veel sprake nie.  Nie noodwendig stjoepit nie, veral nie in Niekie se geval nie.  Domastrant, buierig, dierbaar, manipulatief (JA!) ens ens.  En op ouderdom 16 so wulps jy kan daarmee toor.  Nietemin, in haar koppie het Robbie Klay vanaand net vir haar gesing.  Sy was weggevoer en het saamgesing (kan nie eintlik noot of tyd hou nie) en gedans en haar skewe handjies geklap met suiwer vreugde op haar gesig.

En die mense het gestaar.  En hulle koppe geskud.  En my hart is nou nog seer want al is jou lyf 16 maar jou kop net 5, WEET jy as mense vir jou staar.  Maar niks daarvan maak saak as Robbie Klay in JOU oë kyk en vir JOU sing nie.

Minder maak nog saak as die jong man jou tydens pouse styf vasdruk en sê “Ek is SO bly jy is hier”.

Ek haal vanaand my hoed af vir Robbie Klay oor hy NIE gestaar het nie, en omdat hy nie skaam was om aan my skewe kind deernis en liefde te betoon nie.

En die donnerse Flintstones doefdoef nog steeds.

Sela.

Hierdie inhoud is bygevoeg op Donderdag 18 September, 2008.  Baie dankie vir jou besoek.

Happy birthday Liemie!

En die foto, vra jy?

Dis die eerste foto van water op Mars....



Daai Grot...
 

Daar is tye wanneer ek vir myself sê: “Self, nou het jy alles gesien.”.. Laatmiddag gister, was so ‘n oomblik.

Man van my staan en karwas.  ‘n Vreemdeling arriveer by die hek en wil opsluit inkom.  Man van my vra wat die probleem is.  (Ons maak nie hekke oop vir sommer enige iemand nie.)  Hy stel homself voor.  Kom ons noem hom maar Koos.  Koos reken hy is die ou wat die grot gebou het by die Flintstones.  (Sou nie so trots klink as ek hy was nie  -  die ding lyk verskriklik.)

Lang storie kort:  Koos is nie ten volle betaal vir sy werk nie.  ‘n Vyfsyfer-bedrag word genoem.  (Joe!)  Sy geld sal hy glo kry sodra Man van my iets gaan teken het by die Stadsraad.  Iets te make met ‘n serwituut en ‘n waterpyp en natuurlik die feit dat die Grot se grasdak so ‘n stuk of 30cm oor die muur, in ons erf inhang.  (Of het dit perdalks te make met die feit dat dit wat in teorie ‘n oop struktuur moes wees met pale en ‘n grasdak, aan die einde van die dag ‘n toegeboude struktuur geword het?)  Ag, wat weet ek?  Ek is mos maar net “die effen ou dik ding van langsaan”.  Die mal ou antie wat voëltjies voer.  Die een in wie se panties Wilma moet vaskyk op my wasgoeddraad.

Laat my dink aan laas September toe ek Wilma een Vrydagoggend probeer groet het.  Dit was seker so 3 maande na hulle ingetrek het.  Teen daardie tyd het ek nog nie ‘n suksesvolle groet gepleeg gekry nie.  Elke keer as ek haar gesien en gegroet het, het sy net so op haar hakke omgedraai en verdwyn.  Sonder om my groet te beantwoord.  Let wel ek het nooit gepoog om beste pelle te word, of te sorg dat een van ons met een van hulle trou, of iets nie.  Ek het net probeer GROET.

Die betrokke oggend het ek oorkant die pad staan en gesels met die Engelse tannie wat daar op die plot woon.  My rug was na ons huis gekeer en tannie Engels waarsku toe:  “Don’t look now, but your new neighbor is sort of standing behind you.”  En so dag ek dis die perfekte geleentheid om Wilma uiteindelik gegroet te kry.

Ek groet die tannie en ek loop met ‘n lied in my hart oor die pad.  (OK, OK die tannie het agterna vir my gesê ek het op die vrou afgePYL.)  Toe ek so ‘n tree of drie van haar af is, kyk ek haar in die oë en sê:  “Goeiemore!”  Waarop sy antwoord:  “Vandag bliksem ek my honde dood!”  Ek glo haar want sy het ‘n meneer van ‘n stok in die hand.

Ek is stjoepit genoeg om te vra of dit nie bietjie drasties is nie.  En sy gaan aan en aan oor haar honde in die straat rondhol en blaf.  Weereens is ek stjoepit genoeg om te noem dat ja, die hondjies kan nogal lastig wees.

“WAT BEDOEL JY???!!!”

Ek verduidelik toe dat Man van my skofte werk en soms in die dag moet slaap.  Wat nogals moeilik raak wanneer die hondjies so aanhoudend kef en voor karre inhol sodat die lawaai van brieke en toeters dit wat oor is van die rustigheid finaal opneuk.  Maar ek was rustig.  Regtig.

Skielik is sy aan die hondjies se kant.  En die vrou begin op my skree en verklaar onder andere dat dit nie haar probleem is as my man probeer slaap wanneer haar honde toevallig wil blaf nie.  En ek vra herhaaldelik dat sy nie op my moet skree nie.  En hoe meer ek vra, hoe harder gil sy.

En so vergeet ek toe vir ‘n oomblik waar ek grootgeword het, en sê vir haar ek gaan nie toelaat dat sy verder op my skree nie want EK IS NIE HAAR MAN NIE.  Natuurlik wou sy weet wat ek bedoel en ek verduidelik toe dat die ganse buurt die afgelope Sondagaand kon hoor hoe sy haar man in die Grot geskel het.  Waarop sy terugkap met “Maar baklei julle dan NOOIT nie???”

Nog ‘n keer is ek stjoepit:  “Natuurlik, maar nie soos FIETAS nie.”  Op daardie punt het ek genoeg gehad en my rug op haar gedraai.  Huis in.  Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Nou vang ek myself dat ek dink aan Koos wat nou, na hy alreeds meer as ‘n jaar moes wag vir daai vyfsyfer-bedrag, verwag dat ons papiere moet gaan teken sodat hy sy geld uit die Flintstones kan kry.  (Dis nou terloops dieselfde Koos wat laasjaar hand en mond belowe het dat sy werkers die hope dekgras wat tydens die bouproses in ons erf beland het, sou kom skoonmaak.  Man van my het na weke van wag, self skoongemaak.)

Dien ‘n mens nie planne in, en kry al die nodige toestemming VOOR jy fondasies grawe en begin stene lê nie?

Snaaks, noudat ek ‘n nag daaroor geslaap het, voel dit nie soos MY probleem nie. 

Hierdie inhoud is bygevoeg op 4 September 2008.  Baie dankie dat jy hier op my werf kom skrop het!



Dis Saterdagaand en 'n Flinstone kots teen my muur...
 

Kru?  Kras?  Natuurlik!  Dis Berglaan se Fietas (met 'n Hoofletter) ter sprake!

Ongelooflik.  Dis Saterdagaand.  Sulke tyd.  Doef-doef, dan “F! jou”, dan weer doef-doef, dan weer gil en skree IN DIE STRAAT ens ens.  Maak nie saak watter dag van die week dit is nie; die Fintstones paaaartie.  Sonder ‘n krieseltjie ontsag vir die ander inwoners om hulle.

Die snaaksste van alles is:  Hierdie idiote luister net so 10 tot 20 sekondes van ‘n snit, en channel-hop dan na die volgende een.  En die volume gaan op en af.  Nes jy dink dis veilig om die kussing van jou kop af te haal, trek dit weer los.  Ek gun elke ou sy eie smaak, ook in musiek, so laat ek maar net sê:  Fred & Wilma luister nie na my soort musiek nie.

Een Dinsdagnag gedurende die afgelope winter-skoolvakansie, moes ons die SAPD laat kom om ‘n geveg in die Grot op te breek.  Dit was 2.30vm.  Ek dag die mense vermoor mekaar.  Die oomblik dat die blou lig buite hoorafstand was, trek dit maar net van voor af los.  Met mening.  4vm se kant het ek weer 10111 gebel.  Ek wag nou nog. 

Seun van my sit reg in die middel van die Rekord-eksamen en die rumoer is vanselfsprekend hinderlik.  Maar ek moet erken Fred & Wilma moet salig onbewus wees van die matriek-gedagte.  Duidelik het die tweetjies nooit verby standerd 3 gevorder nie.  Dis nou russen die twee van hulle.

Ek meen, watter mens met net die geringste sweempie van ‘n opvoeding, spandeer wie weet hoeveel geld aan ‘n fensie kat (die ding lyk vir my van die Persiese variëteit), en gee die arme wese dan nie kos of water nie???

Watter tyd laasnag word ek wakker van my Mattewis-kat wat op die voetenend van die bed sit en pffffffffffffffffft!  Kiertsregop sit hy.  Ek hoor sy bakkie spesiale (baie duur!) ou-kietie nannas oor die kombuisvloer skuif.  Ek sluit die veiligheidshek by my kamerdeur oop want ek sien Mattewis is LUS vir ‘n fight.  Die indringer skrik en bestorm die oop venster by die voordeur.  ‘n Ronde 20 kattenaels klou hul pad boontoe aan my pragtige kantgordyn en ruk die ding so 6 duim bokant die vensterbank, morsaf.  Die gordyn nou.

Vir die eerste keer in my lewe vergeet ek waar ek grootgeword het en raak sommer lus om gif in die katkos te gooi.  Mattewis staan met ‘n verontwaardigde kyk op sy gesig, met sy voorpote op die vensterbank.  Sy ou-kat jig keer hom om die buurkat agterna te sit en hy sluip terug bed toe.  Ek sit toe wakker vir die res van die nag, en ek skel die blerrie Flintstones en hulle honger kat.

Laat my nou dink aan die dag in April toe Wilma my bel en reken sy is mevrou van Staden van die Es Pie Sie Ei in Silverton.  En vertel dat ‘n klag ingedien is teen ons gesin omdat ‘n getuie glo gesien het hoe “een van ons” 10-uur die vorige aand, haar kat DOOD oor die grensmuur tot in hulle erf slinger.

Die Silverton-ding het die dof vrou weggegee.  Enige idioot weet tog die DBV is in WALTLOO.  Nietemin het dit my die geleentheid gegee om vir die simpel vrou te vertel wat haar bure van haar dink.  Ek het lekker saamgespeel en haar maar ge- “mevrou van Staden”.  En haar toe vertel (of herinner dalk?) aan die aand toe ons gaste gehad het vir ‘n braai, en Fred hul een hond ten aanhore van ons en ons gaste doodgeskop het.  Dit was die worshondjie wat die volgende oggend saam met die vullis uitgesit is.

Ek kan nie verstaan dat die 2 nog bymekaar is nie.  Eerstens skel hulle mekaar so erg, dat al die water in al wat ‘n oseaan is, niks ooit sal kan reinig nie.  Wanneer Wilma nie tuis is nie, kafoefel Fred met “dames” afgelewer deur die bordeel af in die pad.  Wanneer Fred weg is, kafoefel Wilma die manne wat vir Fred werk.  Jimmel en die mense het ‘n klein dogtertjie in die huis!

Ek kan nie verwerk dat mense wat laasjaar meer as ‘n miljoen bokke uitgehaal het vir die Grot, so min klas het nie.  Ons en die Flintstones is omring deur swart bure.  Ek is SO bang ons bure dink alle wit Afrikaners is soos die Flintstones.  Ek skaam my morsdood.

Vandag het aan 31 grade Celsius gevat-vat.  Heeldag moes ek vensters en deure toehou want die Grotbewoners brand al weer hul vullis.  In die selfde vuurmaakplek waar hulle braai.  Asgatmense.  En die wind het juis so lekker gewaai.  Daai lapa gaan een van die dae vlamvat. 

Hier en nou is dit ver na 11, en van die Flintstones se gaste is op pad.  Vir 20 minute al.  ‘n Grootbek staan luidkeels en verkondig dat hy gisteraand vir so-en-so ge-dit-en-dat het.  Hy noem die arme simpel vrou se naam (ek ken haar nie, Goddank)  en raak die vieslikste detail kwyt.  En ek hoor klein Klippie Flinstone se stemmetjie tussen dié van die blink gedrinkte manne.  EN 'n Flintsone raak BAIE naar teen my muur.

Ek verlang SO na Junie laasjaar.  Toe die Flintstones nog elders gewoon het....

Hierdie inhoud is bygevoeg op 30 Augustus 2008.  Baie dankie vir jou besoek!



Hoërskool Re-unies
   

Gaan ek hierdie skoolmaats in Oktober sien?

Ek hoop so!

Jip, dis al weer sulke tyd.  Daardie tyd van die dekade wanneer jy skielik sms’e en e-posse kry rakende die volgende byeenkoms van dié wat saam met jou op die skoolbanke gesit het.

My volgende een is middel Oktober.  Omstandighede sal afhang of ek/ons sal gaan of nie, moet nog sien.  Gister kommunikeer ek met een van die organiseerders, en klets sommer oor dit en dat.  En so kom hy uit met ‘n oulike waarheid:

Met die 10-jaar reunie daag ALMAL op.  Baie daag op in Pa of Ouboet se Merc en probeer baie hard om suksesvol voor te kom.  Daar word te veel gedrink en almal ry huistoe met die absolute WETE dat so-en-so die ganse aand sit en snot gorrel het.  Ou vriendskapsbande word weer opgetel en raak grotendeels weer verlore voor die volgende byeenkoms.

20 jaar na skool, daag almal op, behalwe natuurlik die vettes, die geskeides, die met hang-ups en kriminele rekords.  Die res wat wel opgedaag het, sit en skinder die hele aand oor die wat nie opgedaag het nie.  Weereens word daar te veel gedrink.

Na 30 jaar daag ALMAL weereens op.  Die teorie daaraan verbonde, is dat niemand hulle teen dan meer bekommer oor die Merc of die spekkies nie.  Terloops, met vandag die kospryse MOET vet ‘n statussimbool wees.

Ja Deon, jy is waarskynlik reg.

Man van my sê altyd dat hoe ouer hy word, hy al meer besef dat sy oorle Pa after all toe nie so stjoepit was nie.  Met ander woorde ons word groot en ons leer.

So ja, ek sien uit na die bring en braai van die matrieks van 1978 van die Hoërskool Staatspresident C.R. Swart.

Afgelope Vrydag was Seun van my se “40 days”.  Dis nou die matrieks van Hoërskool Akasia.  Die kinders het ooreengekom om soos “grootmense” aan te trek, maskerbal-styl, om die een of ander beroep uit te beeld.

Uli is skooltoe in een van Pa se overalls, met ‘n vet spanner wat by die een sak uitsteek.  Pakkie Camels in die sak, die lot.  Pure mechanic.  Daar was verpleegsters, polisiemanne, tot die Pous.  Ja Donovan van hier af in die pad het seker die outfit gehuur.  Ek het die fotos gesien en dit was puik.

Die kinders moes die skoolterrein teen ‘n sekere tyd ontruim, en sit toe af na die Wimpy in Wonderpark.  Waar die krag toevallig af was.  (Dankie Eskom!)  By die Wimpy is daar lekker gekuier and a good time was had by all.  Vandaar is groepe in verskillende rigtings na die huise van maats waar daar gebraai en gekuier is.  Uli was teen 7nm tuis.  Gedaan en MOEG gekuier.  Duidelik was dit ‘n dag waaroor daar nog lank gepraat sal word.  Niks lelik nie.  Net lekkerrrrrrr.

En dis hoe dit hoort.

Wat my laat dink aan ‘n minder lekker ding:  Die dood van ‘n jong seun verlede week.  Gedood deur ‘n maat wat swaar dra aan hang-ups van sy eie.  Lewens wat onherroeplik verwoes is, trane, verwyt en wie weet wat nog alles.  En die musiek van een of ander obskure popgroep wat glo aanleiding gegee het tot die tragedie.

Ek wil my nie uitlaat oor die moontlikhede nie, maar ek wil tog ‘n klip in die bos gooi.

In die sewentigs was ek nie toegelaat om te luister na die musiek van onder andere AC/DC nie.  Hulle was van die duiwel en basta!  Skelm geluister by my pelle, ja.  Maar ek sou dit nooit waag om met ‘n AC/DC LP by die huis op te daag nie.

Maar:  Verlede jaar, met die rugby-wêreldbeker aan die kom, waarmee is dit geadverteer op TV?  Thunderstruck!  Hallooooo!  AC/DC!  Uli-kind het ‘n skielike affiniteit ontwikkel vir Thunderstruck en toe ons onse oge uitvee, e-pos hy vir oom Daantjie in Amerika om tog Fly on the Wall saam te bring wanneer hy weer kom kuier.  En chop-chop het Seun ‘n versameling AC/DC albums wat skrik vir helemal NIKS.  Dit dreun daar in die agterste kamer en tot my skande moet ek erken dis blerrie goeie rock.   Ja ja ja Highway to hell ens ens, maar dis regtig goed.  Baanbreker albums.  Wat my laat wonder:  Het oorle Ma ooit na hierdie manne geluister, of het sy maar net oorgedra wat Dominee beweer het?

Ook:  (O Jimmel nou gaat ek in die moeilikheid beland, maar dis ook maar OK.)  Daai vreeslike oulike Steers advertensie op TV van die manne wat op die Indy-paviljoen sit en wonder wat is biltong en dink Suid-Afrika moet iewers in Mexico wees.  Het jy dit al gesien?  Daar speel so ‘n lekker oemf!-choon in die agtergrond.  En skielik wonder almal:  Wie was daai nou weer?

Kom ek verfris jou geheue:  Dis Gary Glitter.  Jy weet, die blink Soutie wat so lekker gedoef-doef het.  Man, die een met die platformskoene en die maskara.  Ja!  Daai een.  Jy weet, die ou wat laasweek uit die tronk gekom het in die Ooste êrens.  Wat toe terug-gedeporteer is Brittanje toe.  Ja man die ou wat in die tronk was oor hy met kindertjies gevroetel het.

Nou wag ek vir die volgende pedofiel wat gevang word, om te sê dis oor hy ‘n Rave-burger van Steers ge-eet het.........

Hierdie inhoud is bygevoeg op 26 Augustus 2008.  Baie dankie vir jou besoek!



Hot Wax is nie jou maatjie nie!
 

                                                                           Van Riana gekry:

Hoekom is dit dat ons skoner geslag altyd val vir leë beloftes? Veral wat die verwyder van ongewenste liggaamshare aanbetref? Het ons nie al ons les geleer met die Epilady, Nair en allerhande stickers en skeermesse nie? En elke keer glo ons die beloftes dat die hare óf stadiger óf nooit weer gaan terug groei nie.

My aand was doodgewoon. By die huis gekom, kos gemaak, kinders gebad en in die bed gesit en manlief voor die TV gelos om sy stoei in vrede te kyk. Besluit toe dat ek die oorlog teen ongewenste hare nou moet aanpak anders lyk ek soos 'n bosbobejaan en kan ek nie die naweek swem nie.

Gryp toe die boks "koue waks" en pluk hom oop. Hoe moeilik kan dit nou wees? Geen waks wat eers gesmelt moet word nie, dis twee strokies met waks in die middel - amper soos 'n toebroodjie, wat jy dan warm vryf, oop trek en teen jou liggaam plak. Daarna trek jy strokie vinnig af (en skree natuurlik soos 'n vlakvark) "no mess, no fuss". Ek glo ek verstaan die instruksies en dit is mos darem deur 'n vrou uitgevind en baaaiiiieee ander vrouens gebruik dit op 'n daaglikse basis, so ek sal dit sommer tjop tjop onder die knie kry.

Ek vryf die strokie tussen my hande, maar kan die ding nie warm genoeg kry nie. Hoe nou gemaak? Kan hom nie in die toaster sit nie, dit sal net marakkas maak en die haartang gaan nie lekker werk nie. Natuurlik! Die haardroër! Blaas toe die waks tot ek voel hoe dit sag en speelbaar raak. Dink toe sommer aan ander dinge wat ook sag en speelbaar is... Raait, daar is my cold wax toe hot wax. Ek trek die een strokie af, plak die slymerige storie op my been, knyp die een oog toe, byt op my tande en tjjjjj trek hom af. Kon erger gewees het. Ek is trots op myself dat ek so oulik is en sien sommer hoe glad my bene en die res die naweek gaan wees. Manlief is juis so liefdevol as ek mooi glad is. Ek het die prosedure nou mooi onder die knie en vorder fluks.

Nou kom die moeilike deel. Soos ons ouer word kry ons mos pakkasie. Ja man, dis nou die spaarwiel om die heupe en maag, die paksak op die boude en die res wat dril soos rofies in die army, jy verstaan? Maak toe die spiëel staan op die toilet, staan in my Eva's gewaad voor die spiëel en lig my voet teen die bad sodat ek mooi kan sien en mooi kan bykom. Plak die strokie van Paragwaai al die pad tot by Holland, al op die bikini lyn (nie dat ek ooit dood in 'n bikini gesien sal word nie). Ek het besef dat hierdie deel van die operasie seer gaan wees en het die waks nie so warm gemaak soos die ander nie. Ek wil tog nie in die hospitaal beland met 3de graadse brandwonde aan my hoo-ha nie! Wat sal die mense sê en hoe kyk ek die dominee daarna in die oë. Ek staal myself, vat die strokie styf vas en ruk.

                                                                                 

Ek sien sterretjies en wonder of ek moet lag of huil. Hel, maar dis seer! Kyk af en ja, sowaar, ek het die strokie net halfpad afgetrek. Daar sit die res dan nog. Hou aan die wasbak vas en PLUK!!!! Ek doen die hoender dans, die nou dieselfde arm geflap wat ons doen as ons onder die arms geskeer het en ons spuit per abuis Mum 21 aan. Rooi in die gesig en met my asem wat jaag bestudeer ek die waks strokie om te sien of ek darem al die hare gekry het. Groot is my skok. Die strokie is LEEG! Geen hare, geen waks! Nou waar de hel is die waks! Ek buig vorentoe en lyk soos 'n volstruis wat sy kop in die sand wil steek, loer oor die spaarwiel en wraggies, daar sit die hare steeds, dis nou die hare wat veronderstel is om op die waks strokie te sit. Ek voel versigtig daaaaaaar onder en sug swaar, want daar, op my mees privaatste plekkie, waar ek nie mooi kan bykom nie, daar sit die waks. Sonder om te dink haal ek my voet van die bad se kant af en stamp hom hard op die vloer terwyl ek vloek soos 'n matroos. Ek sluk halfpad deur my rympie amper my tong in toe my hoo-ha en wangetjies mekaar omhels. Jip, daar staan ek toe, toegeplak van Paragwaai al die pad tot in Holland en my hart klop in my groottone. Hoe nou gemaak? Ek loop soos 'n Pikkewyn op en af voor die wasbak terwyl my maag draai en ek hard bid dat my maag nie nou 'n illegal occupant moet evict nie, want ander sal die kompressie waarlik my kop laat bars. Dink Tess, dink! Ek kry 'n blink plan, gryp die haardroër en begin blaas. My oë traan van die blow wave, maar heel laas, die waks wil niks weet van smelt nie. Miskien moes ek langer uitgehou het, maar 'n mens kan ook net soveel warm wind DAAR hanteer. Ok, wat volgende? Miskien warm water? Ek probeer eers warm water met die stort kop (waarmee jy jou hare in die bad was) op die waks spuit, maar dit werk nie lekker nie. Tap toe maar die bad vol warm water en kry myself baie jammer omdat nie eers die gevangenis op Robben Eiland so gemartel is nie.

                                                                                    

Wel, die enigste ding erger as jou privates wat mekaar omhels, is jou privates wat vas aan mekaar geplak is en dan nog aan die bodem van die bad vassit terwyl jy so rooi soos 'n kreef verkleur en jou brein vir jou bly skree "STAAN OP, IDIOOT, STAAN OP, EK IS BESIG OM TE KOOK". Ek leer toe op die harde manier dat warm water nie "koue waks" smelt nie. Back to square 1. Ek loer om die badkamer deur (wil nie hê manlief moet my so sien nie) en waggel dan kamer toe waar ek my selfoon gryp en terug badkamer toe waggel.

Raait, wie bel ek nou? My ma het in haar lewe nog nooit eers van waks gehoor nie. Die dra dan steeds doekies, al is tampons al jare op die mark. Anyway, wie? My skoonma! Natuurlik! Sy doen mos altyd hierdie weird en wonderful goed en ken al die boererate onder die son. Skoonpa antwoord en ek praat hom sommer dood. Ja, skoonma is daar en dan hoor ek haar stem. Ek wil sommer huil van blydskap. Sy sal kan help. Ek hakkel so effe, maar vertel haar van my dilema. Stilte..... steeds stilte. Ek begin net wonder of my foon sein verloor het toe ek haar hoor lag. Sy lag so dat sy nie met my kan praat nie. Eers lag ek saam, dan raak ek vies. Sy hou op lag, maar ek kan aan haar stem hoor dat sy nog nie klaar is nie. Wat sê die boks? wil sy weet. Wat sê die boks? Seker nie dat jy dom genoeg moet wees om jouself weer in 'n virgin te verander nie. Skoon ontstoke gryp ek die boks terwyl skoonma weer aan die ander kant proes. Skoonma ek soen jou sommer. Daar, binne die boks is 'n botteltjie seep om die "ekstra waks" mee te verwyder. Ek wil sommer my eie gaai skop dat ek nie eerste in die boks gekyk het voordat ek skoonma gebel het nie, want nou gaan die hele familie weer die storie van Tess se toegeplakte hoo-ha hoor en sal ek seker nooit die einde daarvan hoor nie . Ek druk die foon dood met haar gelag in my ore, gryp die bottel en smeer liberaal van die "seep" aan. My oë traan, my neus loop, my ore is toegeslaan en my hoo-ha is dood, letterlik, geen gevoel nie, maar DIT WERK!!!

Ek laat nie op my wag nie en skrop asof my lewe daarvan afhang. Mind you, my lewe hang daarvan af. My bene voel soos jellie, my hart klop asof ek sopas 'n maraton gehardloop het. Klaar, maar agge nee, die hare is steeds daar..... Flippen hel!!! Dis nou genoeg. Bogger dit. Ek gryp die skeermes en skeer dat jy net hare sien waai. Hoop nie ek skeer myself raak nie, want op hierdie stadium is my hoo-ha en omliggende dele so dood dat ek my eie been sal afsny sonder om dit te voel.

Wel, mense, nooit weer probeer ek waks nie en ek beveel julle sterk aan om behoorlik daaroor te besin voor julle begin.

Nou wonder ek, sal ek volgende week probeer om sonstrepies in my hare te sit? I THINK NOT!

                                                                  Inhoud bygevoeg op 6 Julie 2008. 

                                                                         Dankie vir jou kuiertjie!



Inflasie?
   

Ons inflasiekoers is hoeveel???

Jammer oor die stilte van die afgelope paar weke.  Die grapgatte wat gasheer speel vir hierdie werf, het 25 Mei besluit om skielik al hul wagwoorde te wysig.  So vang ek myself toe dat ek uitgesluit is van die kontrolepaneel, waar ek inhoud kan wysig.  Toe volg 3 weke se e-posse en woede en dreigemente om ‘n ander gasheer te vind. 

Genadiglik vind ek myself weer terug op die lug, maar minus 3 maande se toevoegings tot BigDaisy.  Na deeglike oorweging het ek besef dit sal ‘n groot mors vn tyd wees om al daardie inhoud weer te probeer oplaai.  Derhalwe probeer ek maar die beste van ‘n slegte saak maak, en maar net voortgaan met vars inhoud.  Danksy besoekers en e-possers is daar lekker baie!   

Hier in Pretoria het ons koopverenigings. Baie soos ‘n kredietkaart, maar dis nie regtig skuld nie.  Wat jy koop van die 16de van laasmaand tot die 15de van hierdie maand, betaal jy einde van hierdie maand.  En einde November kry jy ‘n lekker vet bonus op jou jaar se aankope.  Lekkerrr!

In ieder geval, vandag was dit weer sulke tyd.  Die “boekie het oopgemaak”.  En so gaan jag ek vir kos.  Met die dat dit “Joefdei” is, dag ek die winkels sal rustig wees.  Duh!  Kon eerstens nie parkering kry nie, en toe kom die soektog na ‘n trollie.  Jimmel mens sou sweer dis ons laaste kans om iets te kan koop om te eet.

Laasmaand se R11.99 pak rys kos vandag sommer R19.99.  En dit nogal vir die huis-etiket.  Die ellendige blik koffie is sommer R9 duurder, en die pak mieliemeel R2.50 meer.  Ek het lanklaas sonneblomolie gekoop, maar ek wil-wil hierdie om en by R17 vir 2 liter onthou.   Maar hierdie nuwe kan wil-wil ek in die kluis bêre want hy ruk my sak toe sommer met R45.99!  Waar gaan dit heen?

Ek verstaan ons plaaslike inflasiekoers is amptelik kammalielie 10,4%.  Ha!  Probeer weer.

Hierdie inhoud is bygevoeg op 19 Junie 2008.  Baie dankie vir jou besoek!

 



Huh???
 

Jimmel ja, waar sal ek begin?  Die IDIOTE wat gasheer speel vir hierdie webwerf, was so dierbaar om 'n vet stuk daarvan sommer net te verloor.  Vir 17 dae worstel ek om hulle so ver te kry om die ding reg te kry.  Vanmore kry ek toe die "goeie" nuus:  Stop die horlosie!  Hulle vind dit toe, maar minus die laaste 3 maande se toevoegings.  Seker beter as niks.

Net om op datum te bring:

  1. Die Flintstones wroeg steeds voort.
  2. Seun van my het laasweek sy eerste treetjies met 'n loopraam gegee!  Hy is 'n stuk of 20kg ligter, en het natuurlik sy broek verloor die oomblik toe hy op sy voete staan.  Hahaha!
  3. Dis winter in Pretoria.
  4. Ek het verjaar.
  5. Baie bydraes het verlore geraak tydens die IDIOTE se eskapades met my werf.  Sommige kan ek vervang, sommige nie.  Wees asseblief geduldig.  Ek doen wat ek kan.

 

Dankie dat jy 'n draai kom maak het.  Hierdie inhoud is bygevoeg op 10 Junie 2008.



'n Lelike ding steek kop uit by die Flintstones.......
 

Daai ou Jurgens....

Die afgelope seker 6 of 8 weke, versondig die Flintstones ons siele met ‘n wrak van ‘n ou karavaan wat voor hulle huis staan.  So ‘n meter of 2 van die grensmuur af.  Onooglike gedrog.  Een van daai ou goed met die ronde skouers.

So ploeter daar ‘n man (nuwe gesig in die Grot) met ‘n kompressor en ‘n reënboog se verf.  Nou is die ou Jurgens se bokant wit en onder grys, dan weer roomwit en groen.  Tussenin skuur arbeiders die ding weer af, die koerantpapier en die masking tape gaan op en alles begin van voor af.  En dis net walms, dampe en sproete op ons karre vir 3, 4 dae aanmekaar.

En ek het al met die stadsraad gepraat.  Maar so kry Fred dit reg om die arme inspekteurtjie so te bewimpel dat die mannetjie vas glo ek verbeel my.  Het tot laasweek ‘n amptelike e-pos van die Raad gekry waarin die radelose inspekteurtjie reken “oorlas moet bewys kan word”.

En ek sê vir myself:  “Self, dan bewys jy dit”.

Ek werk alles mooi uit:  As ek in Seun van my se kamer staan, en die slim selfoon-kamera tussen die kantgordyn en die venster hou, kan ek mos genoeg bewyse (op video nogal!) kry en sommer vir die stadsraad-man MMS.  Maar is dit nie snaaks hoe ‘n ding soos ‘n mal muggie om jou kop kan karring, maar die oomblik as jy dit vir iemand wil wys, die ellendeling skoonveld is nie?

Die Nuwe Gesig in die Grot is vir ure nêrens te sien nie.  Die son wil al sak.  Intussen wag ek en pluis toevallig uit hoe die “zoom”-funksie werk.  Onthou ek is amptelik tegnologies gestrem en AS ek die dag sulke goed se werkinge effektief kan bepaal, is dit gewoonlik toevallig.

Net toe ek lus raak om moed op te gee (die skottelgoedwater het intussen koud geword), kom Meneer uit die garage en ek hoor hoe tel die kompressor revs op.  Hierdie keer bring Meneer ‘n leer te voorskyn en ek voel sommer dis my dag hierdie.  Nou sal hy mos hoër staan as wanneer hy op die grond staan en werk, en ek sien ‘n Oscar aankom.

Dit is toe ook so, en die bewyse bou op.  Ek sukkel bietjie om te mik, want die “Zoom” het alles baie nader gebring en terselfdertyd probeer ek verby die foon kyk om te kan sien wat aangaan.  Later weet ek nie meer waar om te kyk nie.  Na die skermpie, of verby na die werklikheid?  My hart klop woes en ek het die bewerasies en dis met groot moeite dat ek die simpel ding stabiel probeer hou deur teen die diefwering te leun.  En die son kom foeter ook nog tussenin.

En ek dag dis nou of nooit en ek druk die knoppie.  Ek wag so 15 sekondes en stop die kamera.  Ek is so opgewonde ek MMS die bewyse dadelik vir die Skeptiese Een.

My hande was skaars in die skottelgoedwater, toe die foon lui.

“Mevrou:  Is hierdie ‘n grap?”  Stomgeslaan is ek.  Skielik onthou ek dat ek nog nie my handewerk beskou het nie, en so wonder of ek dalk die boomtakke bo die karavaan vir die inspekteurtjie gestuur het.  Maar dis dan my HUISDOKTER op die lyn!  Ek vra tyd en ek kyk gou.  Jimmel ja ek het na die verkeerde nommer toe gestuur!

Ek vind die betrokke vouertjie en druk play.  Pragtig in fokus, staan Meneer op die leer.  Mens sien hom so half van die kant af.  Dan sit Meneer die verfbottel-ding op die ou Jurgens se dak neer.  En, sommer daar op die leer, vroetel Meneer met sy gulp en ledig toe sy blaas met ‘n reusagtige boog in die middagson in........

Hierdie inhoud is bygevoeg op Dinsdag 11 Maart, 2008.  Dankie vir jou besoek!



Die Flintstones is terug!
   

‘n GEVEG VAN ‘n ANDER KLEUR....

Ek kry ongelooflik baie e-posse van lesers wat vra wanneer skryf ek weer oor die Flintstones.  Wel, die mense het hulle die afgelope paar maande ongelukkig so goed gedra, dat daar nie veel te skryf was nie.  Dis amper rustig hier by ons.  So rustig dat ek begin bekommerd raak het.

Maar afgelope week of so, waai daar alweer lelike vonke.  Mens ken dit uit aan ‘n baie hoë, skerp nasale gesanik.  Mens kan nie noodwendig hoor wat daar gesê word nie, maar die stemtoon is duidelik identifiseerbaar.  ‘n Tipe “Haaaaaaaaaa-nananananana”, ens.  Gewoonlik word laasgenoemde opgevolg deur  “E-e-en NOG ‘n ding: .....”  Dan trek sy weer los.  Wanneer hierdie bekgevegte binnenshuis plaasvind, is dit amper hanteerbaar, maar wanneer die Flintstones Die Grot betrek, weet die ganse straat daar is moeilikheid.  Dis asof die plek die akoestiek van die beste amfiteater het, en mens kan selfs hoor wat daar gefluister word.

Afgelope Sondag se geveg het in Die Grot begin, en oorgevloei na die huis.  Hierdie keer met versterkings.  Ongelukkig sny Eskom NIKS af op ‘n Sondag nie, en ons moes die geveg in stereo aanhoor.  Min of meer soos volg:

Na die bekgeveg (oor ‘n onderwerp wat ek nie in goeie geselskap kan noem nie), het Wilma die huis binnegestorm en haar klanktoerusting ingespan.  André Schwartz het haar bygestaan met “Ek wil jou NOOIT weer sien nie!!”, waarop Fred vanuit Die Grot geantwoord het met die Lente-oes Boere-orkes se “Willemien, Willemien jou aaklige ding.  Dis oor al jou geskinder dat ek #*# het by die huis...”

Vanuit die huis help Albert Hammond haar toe met “Get out, dammit!  Close the door don’t slam it!”  In Die Grot klink Dire Straights toe op met “....so far away from me....” 

Vir ‘n oomblik dag ek sy gee moed op, maar toe trek sy los met “Do you love me....?”  En Fred kap terug met U2:  “....and I still haven’t found what I’m looking for...”  Toe bars alle hel los want teen hierdie tyd weet ons Wilma hou NIKS van U2 nie.

Sy storm die agterdeur uit, Grot toe.  En so kom dit uit dat die betrokke U2-bydrae die een of ander sentimentele waarde vir Fred inhou.  En dit sluit Wilma nie in nie.  En dit gil en dit skree en ons hoor net skottelgoed breek.  En die geveg slaan oor na geldsake.  En Wilma is KWAAD.  En Fred lag vir haar.  GROOT fout.

Sy storm die huis in en klap die agterdeur toe.  En sluit dit.  ‘n Rukkie later probeer Fred daar in.  Hy moet die toilet gebruik en dis dringend.  Sy beveel luidkeels van binne af aan dat hy die swembad gebruik.

“Is jy MAL vroumens?  Maak oop!  OR ELSE!!!!!”  Sy maak oop.  Sy wil nie onder dieselfde dak as hy wees nie, en gaan sit in Die Grot.  Na ‘n ruk is sy duidelik lus om die geveg te hervat, en probeer die agterdeur oopmaak.  Gesluit.  En sy gil en sy skree.  En van binne die huis trek Nadine los met “...maak jy jou oë toe as ons soe-e-e-en...?”

Wilma is nie links nie en gaan krap in Die Grot rond vir verweer.  En kom op met Dozi:  “Staan net ‘n bietjie stil.  Ek wi-i-i-i-l jou vra:....”  En Fred looi terug met “Dis hemel op Tafelberg.  Daar’s ‘n engel wat langs my lê...”

En Wilma trek los:  “Ek is NIE jou engel nie!”  Waarop Fred antwoord:  “Ek het nie na jou verwys nie!”  En die res van die skottelgoed spat aan skerwe.  ‘n Ironiese “...daar’s ‘n stilte in my gemoed....” weergalm uit die huis.

En Wilma kap terug met “..Please release me, let me go.....”  En Freddyboy laat looi met “She f.....ng HATES me...”  (Seun van my sê dis Puddle of Mud se werk.)  En Wilma gooi:  “Jy het nie ‘n IDEE nie!!!”  En sy hamer met ‘n kleinerige gasbottel aan die agterdeur, gebruik die ding soos ‘n stormram.  Sy tree bietjie weg van die deur en storm weer.  Die agterdeur gaan onverwags oop en mens hoor die vloerteëls bars toe die gasbottel land.  Nog skottelgoed breek.  En wat oor is van die agterdeur, klap toe.  Stilte.

Ons dag eers die twee het mekaar uiteindelik vermoor.  Maandagoggend vroegerig hoor ek:  “Sal jy vanmiddag vir Klippies by die skool oplaai my Engel?”  Waarop Fred antwoord:  “Natuurlik my Lief.  For you I kill the bull......”

Hierdie inhoud is bygevoeg op Dinsdag 4 Maart 2008.  (Lekker verjaar Renier!)  Dankie dat jy tot hier gelees het.

 

 

    



Eendag in die Ou Suid-Afrika:
 

Van ‘n (Liefs Naamlose!) besoeker:

LANK, LANK GELEDE...........

Hierdie inhoud word huidiglik gewysig.

Wees geduldig asb!

Maandag 25/2/2008

Dankie!

 

Hierdie inhoud is bygevoeg op Vrydag 22 Februarie 2008.

Name is verander en verdoesel om die betrokke troep te beskerm.  Dankie dat jy tot hier gelees het!



Tata Jurie en Hestrie!
   

Dankie Eish!Kom!

Eish!Kom is die oorsaak van vele probleme, soos ons almal weet.  Dit het so deel van ons lewens geword, soos misdaad, padwoede, korrupsie, geweld, rassisme ensomeer.  Mens kan nie meer 'n koerant oopmaak, of TV aansit, sonder om gebombardeer te word deur die een of ander elektrisiteits-verwante kwessie nie.

Maar as ek nou optimisties sou PROBEER wees, oftewel NIE die hele tyd die pikswart wolk midde-in elke silwer randjie wil raaksien nie, moet ek erken dat ek hierdie week ‘n klein liggie in ons huidige donker tonnel opgemerk het.

Het jy afgelope Woensdagaand Kwêla gekyk?

Daar sit Jurie Els toe en verduidelik waarom hy en vroulief besluit het om die land te verlaat vir die groener weivelde van Nieu Seeland.  Sy redes was min of meer soos volg:

Jurie is MOEG daarvoor om 500km te ry vir ‘n vertoning en met sy aankoms te vind dat daar nie krag is vir sy klanktoerusting nie.  Maar dit is nie al nie.  Verder is Jurie MOEG vir mense wat dan “smeek”:  “Ag kan jy dan nie maar more-aand vir ons sing nie?”  Jurie is MOEG vir die feit dat daardie “bewonderaars” van hom, nie agting het vir die feit dat hy ver moes ry, en ook ‘n huis en vrou en kind het nie.

Kom ons kyk asseblief verby die feit dat ek nie ‘n Jurie-bewonderaar is nie.  Ek is bereid om te aanvaar dat daar wel mense is wat vrywilliglik na sy sang sal luister.  Net so is daar iewers in die wêreld mense wat na Bob Dylan luister.  (Persoonlik vind ek laasgenoemde ‘n briljante digter, maar iemand moes die man geskiet het die oomblik toe hy sy eerste noot probeer sing het.)  In ons huis woon die Campbells se grootste aanhanger, maar ek persoonlik sal nie spaar vir een van hulle albums nie.  Oorlede Bles is ook nie in ons CD-rak nie.

MAAR:  Elkeen het ‘n mark.  Selfs Jurie Els.  (Is hoor.  Moet wees.  Ek dink so, in elk geval.  Wel of dit, of hy het baie geld gewen met die Lotto / by ‘n casino en spandeer nou alles op die opneem van die een treffer na die ander.)

Jammer, jammer, jammer!  Ek drup van vooroordeel.  Nee, ek LOOP OOR daarvan.  (Sal die jurie [ahem!] die laaste opmerking asseblief net ignoreer??!)

Maar ek dwaal van die punt af:  Wat my Woensdagaand tydens Jurie se finale amptelike Suid-Afrikaanse televisie-onderhoud (sy woorde, nie myne nie) eintlik die MEESTE gegrief het, is die neerhalende wyse waarop hy na sy “bewonderaars” verwys het.  Tydens die “more-aand vir ons sing”- aanhaling het hy ‘n nare trekkie om die mond gekry en ‘n nog naarder stemtoontjie gebruik.  As ek een van die vent se “bewonderaars” was, het ek solank by Johannesburg Internasionaal gaan kamp opslaan sodat ek kan seker maak ek sien die bliksem wel gaan.

Ja goed, hy het wel dankie gesê vir al sy bewonderaars wat hom gesit het waar hy vandag sit.  Wel hy gaan seker nie meer lank hier sit nie, hy is mos op pad uit.

MAAR WIE MOET ONS BEDANK?

Onthou die liggie in die tonnel waarna ek hierbo verwys het?  En die afwesigheid van elektrisiteit waar Jurie wil sing?

Dankie, Eish!Kom!

Hierdie inhoud is bygevoeg op Vrydag, 1 Februarie 2008.  Dankie aan almal wat navraag gedoen het oor hoekom ek so lanklaas op my werf geskrop het:  Ek sal alle e-posse mettertyd beantwoord.  Geen misterie nie  -  ek het net ‘n VET verkoue gehad, wat my vir meer as ‘n week lank platgetrek het.  Dankie vir jou besoek!  



Beurtkrag (2)
 

Hierdie BEURTKRAG-ding maak my oud.  Dis lanklaas dat ek 'n ding gesien het wat soveel reaksie uitlok.  Van waar ek staan, het ons basies uiteindelik onse gatte deeglik gesien.

Vandag se Rapport berig dat ons in die eerste 14 dae van hierdie jaar, in totaal meer kragonderbrekings gehad het, as in die hele 2007.  En dan gaan hulle voort om raad te gee rakende die aankoop van kerse en vuurhoutjies, petrol (onthou die Sasol-pomp werk ook met lektriek!) ens.

Afgelope week is daar juis so van vulstasie na vulstasie gekruip op soek na 'n plek waar die krag nie af is nie!  Die oulikste voorstel in Rapport, is dat dit nie goed is vir ons yskaste om in hierdie swaar tye gedurig oop en toegemaak te word nie.  Haal dus sommer SES biere op 'n keer uit!

Ons plaaslike winkelsentrum is Wonderpark.  Wonderlike plek.  As die krag aan is.  Wonder net hoe lank die besighede daar, kan uithou, want die oomblik dat Eish!Kom besluit dis nou ons BEURT, maak alles toe.  Tot die Poskantoor.  Die sentrum se kragopwekkers maak net voorsiening vir FLOU lig in die gange, sodat jy kan sien waar jy loop die oomblik dat die plek ontruim word.

House of Coffees het dan oulike, romantiese boepens-wynbottels met kerse in waar jy 'n blikkie wat-ookal kan geniet.  Let wel 'n BLIKKIE.  Nie eers sap nie want die masjien werk ook mos met lektriek...

Die mense in American Swiss reg oorkant die koffieplek skarrel dan gewoonlik om hul deure toe te kry, want rowers slaan glo toe die oomblik dat Eish!Kom sy ding doen.

In Pick 'n Pay heers totale chaos want daar is dit BAIE donker.  En sou jy dalk net in die middel van 'n kaart-transaksie gewees het toe Eish!Kom se ding gedoen het, moet jy maar verlof insit om die kwessie by jou bank te gaan opklaar.  Dis nou te sê as Eish!Kom saamspeel.  Dieselfde geld natuurlik vir as jou bankkaart TOEVALLIG op daardie oomblik in jou eie bank se tellermasjien vasgekeer was.

O en moenie probeer om te gaan fliek nie!  As Eish!Kom 10 minute in die fliek in, besluit dis tyd, raak die kassier baie moeilik die oomblik dat jy jou geld terugvra.  Ek veronderstel die flieks verkoop minder en minder kaartjies.....

En as jy dalk in een van die vele eetplekke gesit het toe Eish!Kom besluit het dis jou beurt, kan jy natuurlik in die donker probeer eet.  Maar as jy nie kontant het nie, moet jy ongelukkig seker jou bord kos teruggee, want hoe gaan jy dan betaal?

Man van my voel vreeslik verneuk.  Hy sê hy betaal die HELE R500+ per maand vir DSTV, maar het net ± 65% van die voordeel daarvan.  Ons kan dit nie gebruik as ons nie lektriek het nie!

Oja, en probeer bietjie kla?  Die koordlose foon werk ook mos met lektriek.  Plus:  Eish!Kom se webwerf is onder konstruksie en bevat NIE die beurtkrag-skedule wat hulle BEWEER daar is nie.

En die buitelig met die sensor wat ons laat beter voel oor ons voertuie - ook nie meer met ons nie.  Sien, wanneer die krag onderbreek word, BLY DIT AAN wanneer die krag weer aangaan.  Totdat jy die ding van voor af programmeer.  As jy toevallig iewers in die verkeer vasgekeer was tydens jou BEURT, (onthou verkeersligte werk ook met daai lektriek-ding) kan jy mos nie betyds by die oulike buitelig uitkom voor hy uitbrand nie!  Oja, die R35-elk gloeilampe (TWEE van hulle!) oorleef gewoonlik ook nie.

So het ek afgelope week ook agtergekom vars vleis vries nie regtig maklik in 'n vrieskas wat nie daai lektriek-ding het nie.  Die vleisies wat daarin was toe jy die nuwes ingesit het, is nie genoeg om die nuwes te vries nie.  So:  Ry nou maar meer dikwels (as jy by die elektriese hek kan uitkom!) en koop minder op 'n keer (jammer  -  geen grootmaat afslag meer nie!) en sorg so dat jy minder skade ly.

Bitterbek, is ek nie?  Maar ja, daar is darem geld vir naamsverandering, troos ek myself........

Hierdie inhoud is bygevoeg op Sondag, 20 Januarie 2008.  (In die middel van die nag, terwyl Eish!Kom voorsien)  Dankie vir jou besoek.

 



'n Soekblokkie vir jou gerief:
 
Google
 


Eish!
 

Ek voel so sterk hieroor, dat ek die onderstaande sommer op BEIDE die BlomBlok en die DaisyBlog invoeg.  Nou soek ek nog net na iets soortgelyks rakende my ellendige Internet Diensverskaffer met sy alewige "Page cannot be found", en "Cannot find server"......

Dis absoluut ongelooflik hoe my woordeskat uitgebrei het sedert ek aan hierdie webwerf begin werk het.

Hierdie inhoud is bygevoeg op Donderdag, 17 Januarie 2008. Baie dankie vir jou besoek.



Feestyd langs die Flintstones...
 

Joe.  Ja.  Wat kan ek sê?  Kersfees het gekom en gegaan.  Oujaar en Nuwejaar ook.  Ons het ons gestaal vir Ou- en Nuwejaar, na die kakofonie van Kersfees.  Dis nou die kakofonie vanuit die grot.  Ons idee van Kersfees, en die idee soos gehandhaaf deur die Flintstones, verskil Hemelsbreed.  So berei ons ons toe voor op die Oujaar van die Eeu.

Maar:  Ons kan steeds nie uitpluis of die spulletjie die datum verkeerd gehad het, of WAT nie.  Sondag 30 Desember het die partytjie langsaan begin.  Sommer vroeg al, net na 9 in die oggend.  En dit drink en dit fuif en dit Karaoke vir 'n vale.  En ons vlug maar huis in want buite waar ons gewoonlik kuier, kan mens jouself nie eers hoor dink nie.  Verdomp.

Op 'n stadium sien ek hoe kom die T-Been bene en stukke sampioen en skywe tamatie oor die grensmuur gevlieg.  (Wanneer kry die mense vir hulle 'n asblik???  Hulle woon al 6 maande hier!  Ek tel op en gooi terug.  Later sien ek 'n halwe broodrol daar lê en toe ek uitgaan om dit op te tel, sien ek die een Flintstone-kat daaraan smul.  Ek laat hom maar begaan.  In die hoop dat hy later die aand NIE in ons huis sal insluip om ou Oskat se gourmet-nannas te kom vreet nie.

Oujaarsoggend sien ons die oom wat vir Fred werk, en ook in die grot woon, al loop met 'n GROOT bottel bier, lankal verby die halfpadmerk gedrink.  Dit was knap na 8.  VOORMIDDAG.  En ons staal ons teen die aanslag van wat die aand sou volg.  En ons wag.

Teen 3nm stel Man van My voor dat ek 'n kalmeermiddeltjie neem, want hy kon seker sien hoe die stres in my opbou.  Ek maak so en ons wag.

En NIKS gebeur nie.  Ek wou SO graag vanmore hier afpak en lekker skinder oor my bure, maar so stel hulle my toe teleur deur 'n rustige Oujaar te vier SONDER die doefdoef.  Wat 'n antiklimaks!  En sal jy glo; Nuwejaar was dieselfde!  Geen piep uit die grot nie.  Ons het HOEVEEL keer gaan kyk:  Hul voertuie was daar, hulle ook.

So spandeer ons Nuwejaar met die ontwikkel van opinies rondom die gebeure.  Of liewer die GEBREK aan gebeure.  Enigste gevolgtrekking wat sin maak, is dat hul doefdoef-masjien ingekonk het.

Dink asseblief aan ons:  Die stilte dryf ons tot raserny!

Hierdie inhoud is bygevoeg op Woensdag, 2 Januarie 2008.  Baie dankie vir jou besoek! 



Seun van my is mondig...
   

Op Sondag, 9 Desember 2007 word my Seun toe 18.  In die Nuwe Suid-Afrika is 18, mos nou amptelik MONDIG.  Partykeer wonder ek hoekom ‘n OUER geluk gewens word met die KIND se verjaardag.  Dalk word mens geluk gewens met die feit dat jy dit reggekry het om hom in al sy jare nog nie dood te klap nie...?

Sy Ingelse maatjie Michael het die 8ste 18 geword.  Die plan was dat die 2 van hulle die aand van die 8ste na ‘n watergat gaan sodat Michael sy eerste “wettige” dop kan drink.  Dis belangrik dat ek noem dat Michael aansienlik korter en kleiner as Seun van my is.  Hy lyk nou so 15.  Seun van my, aan die ander kant, laat mos ‘n ou XT500 soos ‘n 50 lyk wanneer hy op die ding sit.  Die kind groei en groei net.

Die gedagte was dat Soutie waarskynlik gevra sal word vir sy ID, maar dat hy sou kon bewys hy is wel 18.  Dan is daar ook voorspel dat Seun van my die ID-ding sou vryspring omdat hy lankal reeds groot genoeg lyk vir ‘n wettige dop.

Ag en toe val alles plat want niemand vra toe niemand se ID nie.  Van die watergat af is die spulletjie toe na die Soutie Hoofkwartier waar daar toe lekker feesgevier is.

Omdat Seun van my op Sondag verjaar, is daar besluit op ‘n braai in die laatmiddag.  Dis skoolvakansie en al die maats, behalwe Soutie is reeds see toe.  Ek en Man van my kuier toe met ‘n drankie en middel-van-die-maand Salticrax by die vuur, terwyl die Manne Playstation speel in die sitkamer.

So kry ek toe die gedagte om ‘n paar ou langspeelplate te gaan uitkrap en te speel op oorle Pa se Philips buite in die Wendy.  Ons raak nostalgies oor Brothers in Arms (wat terloops op vermoorde vriend Richard Fryer se begrafnis IN DIE KERK gespeel is afgelope Meimaand), toe die Flintstones besluit hulle chip alweer in.  In die middel van ‘n verwronge weergawe van “Leaving on a jetplane” blêrende vanuit die grot, gee ons toe maar moed op want die ou Philips kan nie so hard nie.

(Moontlike rede vir die lawaai – Dalk die Metro-inspekteur se dreigement van ‘n R20,000 boete wat SAL volg as die Flintstones dit sou waag om weer ysters te “grind” en sweis en spuitverf in ons stil buurt....?)

Kort na ek die Philips gaan stilmaak het, is dit ook stil by die Flintstones.  Man van my stel voor ons luister na Eddy Grant.  Te midde van “Do you feel my love?”, trek Karen Zoid los vanuit die grot lat jy die woofers en tweeters kan hoor spat.  Af is die Philips.  Kan in elk geval niks hoor nie.  Stilte uit die grot.  Die Philips word weer ingespan.  Hierdie keer is dit Robbie Wessels wat vir Eddy stilblêr.

Intussen munch ons die gebraaide peri-peri hoender op die maat van “Verbode vrugte”.    En ek wonder wat vir ons voorlê hierdie Kersfees.  Jy weet?  KERSFEES?  Tyd vir Vrede op Aarde, vergifnis, GEE, rus.

En so besef ek:  Dit sal NOOIT weer stil en rustig wees in Berglaan nie.  Nie met die Flintstones hier nie.  Negatief?  Nee, realisties. 

Want hulle is wat hulle is.

 

Hierdie inhoud is bygevoeg op Maandag, 10 Desember, 2007.  Dankie dat jy kom kuier het.

 



Fietsryers....!
 

 

Dis Saterdag, 1 Desember, 2007.  Man van my kom 6.30vm van nagskof af in ‘n verwoede bui.  So 500m van ons huis af was daar ‘n skermutseling tussen hom en ‘n fietsryer.

 

Laasgenoemde het eerstens die padordonnansies oortree, en vir Man van my met die dood gedreig.  Terwyl genoemde fietsryer se Vroulief aanhoudend “kom Pieter!”

 

Man van my het met die intrapslag die stofsuier gegryp en die sitkamer begin reinig.  So dag ek toe hy sal dit alles uitwoed, maar nee!  Toe gryp hy die Rally Wax en die Orbital Polisher en spring aan die werk op die nuwe ou Ford.  Ek waarsku nog teen die Flintstones se besproeiingstelsel, maar ek kry geen hond haar-af gemaak nie.

 

Weereens my vraag:  Geld dieselfde padreëls nie vir fietsryers nie?  En hierdie Pieter het nogal die rykleertjies van een of ander CHRISTELIKE fietsryklub aan!

 

Hou asseblief duimvas dat my volgende inskrywing nie slegte nuus bevat nie.....

 

Hierdie inhoud is bygevoeg op Saterdag, 1 Desember 2007.

Dankie dat jy tot hier gelees het.

 



Hoofpyn / Kopseer???
 

Het ek 'n hoofpyn of  'n kopseer???

Sommer alles gelyk.  Die Flintstones maak mos ystergoed vir 'n lewe.  Hekke, palisades ens.  En "game fencing"  -  kan nie nou aan behoorlike Afrikaans daarvoor dink nie.  My kop is te seer.

Ag en ek kon die mense nie ore aansit nie, toe kry ek die Tshwane Metropool (dis nou die Pretoriase Munisipaliteit, in die ou taal) om dit te kom doen.  Het laasweek my stem dikgemaak by die Metro.  En gister al kry ek 'n oproep van die betrokke inspekteur wat toe allerlei vrae vra.  En ja, hulle sal die gedoente kom stopsit.

Nou net wag.  Maar:  Ek het mos die geluk van die ongebore sirkusvark.  Met daardie geluk van my, slaat die Metro hier uit wanneer die Flintstones die dag NIE staal sny en sweis en spuitverf nie.  Sal maar moet wag en sien.

Maar eers moet ek my hoofpyn / kopseer gaan troetel.....

Hierdie inhoud is bygevoeg op Dinsdag 27 November 2007.  Dankie dat jy tot hier gelees het.

 

 

 



Geld?
 

         

My bure.  Wilma is die gillende een met die kolletjiesrok.

 

DIE DINGE WAT GELD NIE KAN KOOP NIE

 

Boeboe van die Vetkoekpaleis het mos op ‘n dag gesê:  “Mense wat sê dat geld nie geluk kan koop nie, shop by die verkeerde winkel.”  Kan wees ja.

Vanmore toe ek en my jongste op pad is bus toe, moes ek ALWEER die voorruit skoon sukkel voor ek kan ry.  Die Flintstones het mos ‘n repie gras geplant.  Teen die grensmuur.  Seker die laaste flentertjie grond wat nie gerockface, gelapa of geswembad is nie.  Toe skaf hulle mos vir hulle ‘n natspuit-apparaat aan.  Een met net so min “aim” as Seun van my.  Plaas die mense uit hulle grot kom en tuinslang in die hand natmaak.  Maar nee, dit prop die natspuit-ding in en kom uit die pad uit.

Die gevolg is die volgende:  Die ding spuit om een of ander duistere rede nogal hoog.  Inderwaarheid tot bo-op ons skadunet-afdak.  Dis nou die afdak waaronder ons WIT voertuie staan.  Die afdak waarop redelike hoeveelhede stof bedags gaan lê.  Net jammer dat teen die tyd dat die Flintstone-water daarop beland, kombineer die ou tweetjies en eindig op as modderspatsels my ganse kar vol.

Soggens so halfses ry ek Oos.  In die son in.  met die terugkomslag, so 20 minute later, ry ek uit die aard van die saak Wes, dus met die son van agter.  Vanmore was ons effe laat, en net die voorruit is gereinig.  Op pad huistoe van die bus af, sit ek toe met ‘n “tremendous glare” in die agterruit.

Knap na 7 maak Seun van my reg om skooltoe te ry om Toerisme of iets te gaan skryf.  En hy sukkel die ou XT (wat terloops dateer uit die derde kwart van die vorige eeu), aan die gang.  Want dié het ook mos in die Flintstone-reën gestaan.  En die water syfer deur die stiksels op die sitplek uit die spons daarbinne, dat die kind se agterent lyk of hy al klaar sy vraestel onder oë gehad het.  En die kind is so moerig hier weg, ons het skaars gegroet.

So nee, my dag/week het nie lekker begin nie.  En so kom die lysie by my op.  Van die dinge wat geld nie kan koop nie.

 

  • Konsiderasie
  • Geduld
  • Tyd
  • Kultuur
  • Menslikheid
  • Medemenslikheid
  • Liefde
  • Maniere
  • Geluk

 

Hierdie inhoud is bygevoeg op Maandag, 19 November 2007.  dankie dat jy tot hier gelees het.

 



Vlieg teen die muur....
 

Dagsê!  Ek het nog heelwat te sê oor die Flintstones, maar hulle raak op die oomblik vir my te veel.  Dus het ek besluit om vir die oomblik 'n nuwe rigting in te slaan....

(Jammer, sou graag bogenoemde in Afrikaans wou vertoon, maar wat sal ek maak?)

Partykeer dink ek dit sou lekker wees om 'n vlieg teen die muur te wees.  Veral waar mense sit en maak of hulle dink.  Daagliks kry ek sms'e en e-posse met 'n verskeidenheid oulike boodskappies, gebedjies ens.  Party pos vly dat ek skoon bang raak dit gaan na my kop toe.  Ander dreig weer behoorlik.  Soos dié wat beweer dat jy jou GROOT moeilikheid op die hals SAL haal as jy die boodskap nie aan op die kop 72 mense aanstuur nie.  Jimmel ek ken nie eers soveel mense nie!

Die nuutste is rakende die een of ander geskrif van die nimlike Deon Maas, wat afgelope Sondag in Rapport verskyn het.  Skynbaar sou Maas daarin voorstel dat satanisme (Sien?  Ek dink nie die term verdien om met 'n hoofletter geskryf te word nie.) as Godsdiens erken behoort te word.  My opinie is soos volg:  (Verskoon my taalgebruik asseblief!)

Eerstens:   -  Ek lees nie graag koerant nie.  Die goed bevat meestal slegte nuus.  Net die Son  -  daar vertel hulle elke Vrydag die nuus in Boere-Afrikaans.  En ek geniet hulle grappies vreeslik!

Ek kan nie saampraat oor die betrokke berig nie, want ek het dit nie gelees nie.  Maar:  Waar was Deon Maas die laaste 13 jaar?  In hierdie pragtige, siek en korrupte land van ons is satanisme al lankal wettige godsdiens.  Duiwelsaanbidders word glad nie meer vervolg OMDAT hulle satan aanbid nie. 

Die SA Polisie het vir jare 'n spesiale eenheid gehad:  Afdeling vir okkulte verwante misdrywe.  Die hoof van daardie afdeling was ene Kol. Kobus Jonker, 'n ongelooflik diep Christen.  Sy afdeling in die Polisie is ontbind in die "nuwe" SA, juis omdat duiwelsaanbidding nie meer vervolgbaar is nie.  Die dade wat daar gepleeg word tydens hulle rituele (offer van maagde, babas, diere ens) word wel as krimineel beskou, maar sataniste aanbid wel 'n god, synde Lucifer.  Dus IS satanisme reeds juis 'n godsdiens.  Ongelukkig is dit waar, of ons dit wil erken, of nie.

Die heel slimste ding wat die duiwel ooit kon doen, is om die wêreld te laat glo dat hy nie bestaan nie.  As satan nie bestaan nie, is daar mos geen nut vir Christenskap, Islam, Buddhisme ens nie.  Dis juis omdat die bliksem WEL bestaan, dat ons die Ware God nodig het.

Kol. Jonker het 'n boek uitgegee:  Satanisme:  'n Realiteit, wat 'n skrikwekkende wake-up call is vir mense wat dink hulle kan die duiwel op hulle eie ignoreer of wegwens.  Dis lelike goed waarmee mens nie mors nie.  Moet NOOIT vergeet nie:  die duiwel is NIE in kettings nie, hy is LOS!

Partykeer as Manlief  Saterdae die Beeld koop, lees ek Deon Maas se blad in BY.  Ek verbaas my elke keer dat 'n man wat eintlik baie goed kan skryf (hy was, verstaan ek, op sy dag 'n joernalis), so 'n spul strooi kan kwytraak.  Mens moet onthou mnr Maas is 'n BAIE klein mannetjie.  Persoonlik glo ek hy ly aan "Kort Man Sindroom". 

Onthou voor die Afrikaanse Idols het min of meer NIEMAND nog ooit gehoor van Deon Maas nie.  Het jy?  Natuurlik nie.  Hy is 'n klein, onsigbare mannetjie.  Idols is 'n Formaatprogram, baie soos 'n franchise.  Dit word volgens sekere voorskrifte aangebied.  Kyk bietjie hier:

 

 

Amerika

Afr Idols

2007 Idols

SANGER

Paula

Mynie

Mara

MUSIEKBEDRYF KENNER

Randy

Taliep

Dave & Gareth

IRRITASIE- FAKTOR

Simon

Deon Maas

Randall

 

Jy kan maar kyk, in die Britse Idols was dit presies dieselfde, want dis 'n FORMAATPROGRAM.  Nouja, met Afr Idols het die kleine Deon toe ge-arriveer, en sit toe op Kyknet se "Saterdagaand" met 'n dop in die hand, ELKE Saterdag aand, langs nog 2 onbenullige mense, waarvan een se tieties moet wys voor sy raakgesien kan word.  En so DINK mnr Maas hy beteken nou skielik iets, en hy begin skryf.<